Brief van Karin Curtis – September 2019
Midway Care Centre, ‘n plek van vreugde en dankbaarheid vir my.
Na twaalf jaar tuisversorging, het my man na Midway verhuis, waar hy vir die laaste 5 maande van sy aardsbestaan gehelp en versorg is. In die vyf maande het ek meer van dimensia en Alzheimer geleer en beleef as die twaalf jaar by die huis.
Die eienaars Neels en Sharon van Rensburg en matrone Ansovi Schoeman se harte klop warm vir hul mensies. Hul navorsing en toepassing bring resultate wat verstommend is.
In die net meer as twee jaar wat ek nog graag daar kuier, gesels, saamloop, puzzle bou en dominos speel, is dit vir my wonderlik dat nie een my vergeet nie. Ek was al vir tye vir drie maande weg dan stap ek in of dit gister was, en almal is bly om my te sien.
Een van die belangrikste redes waarom ons my man na Midway geneem het, was dat dimensia en AD medikasie nie daar gebruik word nie. Juis daarom word intens gelet op die regte voeding en inname van vloeistof waarvan water die heel belangrikste is.
My man het ‘n “pegbuis” net gekry toe hy Midway toe is. Suster Ansovi het hom weer leer eet, om sy lewenskwaliteit te verbeter. Hy het lekker geëet daar met die ander oupas aan tafel tot kort voor sy dood. Op hulle manier verstaan hulle mekaar en geniet mekaar se teenwoordigheid.
In die tyd wat ek betrokke is by Midway, het verskillende pasiente daar gearriveer met min menswaardigheid en lewenskwaliteit. Nie baie lank nie, dan verander hul situasie na positief. Dit is as gevolg van versorging op hoë vlak en vertroue in ons Hemelse Vader.
Sterkte Midway, mag julle van krag tot krag gaan en vir baie veel beteken. ‘n Plek van lafenis en omgee voordat die draad met hierdie wêreld van ons geknip word.
Baie liefde en seën,
Karin Curtis
