Dankie is te n klein woordjie van Ina Coetzee

Dankie is te n klein woordjie – Dankbaarheid het meer letters maar sê nog nie wat ek wil sê nie.

Ouma Sally het in 2012 by Midway Care ingetrek met geen woorde meer en n vreeslike wond aan haar been. Suster Ansovi het met sagte hande daardie wond reg gedokter en so ‘n verhouding met Ouma Sally opgebou dat sy net in haar oë kon kyk en geweet het hoe sy voel. As sy gedink het dit is nodig vir n pilletjie, is dit fyn gemaak en met yoghurt gemeng en vir haar gevoer en afgesluit met n soentjie. Hoe sê mens dankie daarvoor?

Na Ouma Sally daar ingetrek het het sy baie graag in die tuin gestap en toe die tyd kom dat sy nie meer kon loop nie het die personeel haar in die rolstoel buite toe gestoot dat sy die omgewing kon sien met die hoendertjies en al die klanke kon hoor. Hoe se mens dankie daarvoor?

Ek het nooit laat weet ek kom kuier nie om net te sien hoe julle haar hanteer en groot was my verwondering om haar altyd mooi versorg te kry met netjiese hare en goed versorgde naels. Ek het ook altyd oor haar skouer geloer na die kos en dan het my mond gewater — geen oumens kos nie en die lekkerste was die skinkbord met die hopies lekkers wat vir elkeen uitgetel is — lekker bederfie!
Hoe se mens dankie daarvoor?

Sy het nie meer woorde gehad nie maar ek wou nog graag met haar kontak hê. Ek het probeer om gereeld hier uit die Kaap te bel en dan was die personeel veral, Maria so wonderlik om die foon by haar oor te hou dat sy my stem kom hoor — Maria het altyd gese ” Ouma Sally dis jou dogter – sê hallo, sê hallo ” – wonderlike oomblikke!!

Hoe se mens dankie daarvoor?
En toe Ouma siek word en sukkel om asem te haal het julle met sagte hande haar gehelp om oor te tree. Hoe se mens dankie daarvoor?

Sharon, Suster Ansovi en al die wonderlike personeel – verpleegkundiges, mense in die kombuis, skoonmaakmense en tuinmense – ek sê baie baie dankie vir die tyd wat Ouma Sally daar by julle kon deurbring. Ek waardeer dit opreg en bid dat julle vir nog baie ou mensies soveel liefde sal gee.

Ek bid vir God se seën op Midway Care.

×

Make an appointment and we’ll contact you.